[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Antoon van Dyck

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Antoon van Dyck
Selfportret met 'n Sonneblom (ná 1633)
Gebore
Antoon van Dyck

22 Maart 1599
Antwerpen, Spaande Nederlande
Sterf9 Desember 1641 (op 42)
Londen
NasionaliteitVlaams
BeroepSkilder

Antoon van Dyck (Nederlandse fonetiese uitspraak: vɑn ˈdɛik, verskeie spellings;[1] 22 Maart 15999 Desember 1641)[2] was 'n Vlaamse Barokkunstenaar. Hy het die vernaamste hofskilder in Engeland geword, na sukses in die destydse Suid-Nederland en Italië.

Hy was die sewende kind van Frans van Dyck, 'n welgestelde Antwerpense syhandelaar. Antoon het van 'n jong ouderdom begin skilder. In sy laat tienerjare was hy suksesvol as 'n onafhanklike skilder. Hy het later in 1618 'n "meester" geword in die Gilde van Sint Lukas. Teen hierdie tydstip was hy werksaam in die ateljee van die voorste noordelike skilder, Rubens. Rubens het 'n groot onvloed op hom uitgeoefen. In 1621 het van Dyck vir 'n paar maande in Londen gewerk, waarna hy vlugtig teruggekeer het na Vlaandere, voordat hy na Italië gereis het waar hy tot 1627 gewoon het, meestal in Genua. In die laat 1620's het hy sy bewonderenswaardige Ikonografie-reeks van portret etse, meestal van ander kunstenaars, voltooi. Hy het vyf jaar in Vlaandere spandeer na sy terugkeer van Italië, en was vanaf 1630 hofskilder vir Aartshertogin Isabella Clara Eugenia, die Habsburgse Goewerneur van Vlaandere. In 1632 keer hy terug na Londen op aandrang van Karel I om die pos van hoof hofskilder op te neem.

Met die uitsondering van Hans Holbein die Jongere was van Dyck en sy tydgenoot Velazques die eerste talentvolle skilders om hoofsaaklik aan portrette vir die Europese vorste te werk, wat die genre handomkeer verander het. Hy is veral bekend vir sy portrette van die aristokrasie, waarvan die noemenswaardigste dié van Karel I en sy familie is. Van Dyck het vir die volgende 150 jaar 'n prominente invloed uitgeoefen op die Engelse skilderskool. Hy het ook mitologiese en Bybelse onderwerpe geskilder, insluitende altaarstukke, en was 'n belangrike innoveerder op die gebied van waterkleurskilderye en etswerk. Sy manjifieke kwashale, wat klaarblyklik ietwat vinnige aangebring is, kan gewoonlik onderskei word van die groot areas wat geskilder is deur sy assistente. Sy portretstyl het aansienlik verskil van land to land, maar het volwassenheid bereik in die ontspanne elegansie van sy laaste Engelse periode. Hy is begrawe in St Paul's Cathedral, wat 'n aanduiding is van sy faam ten tyde van sy afsterwe.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]
Selfportret, 1613–14

Opvoeding

[wysig | wysig bron]

Antoon van Dyck is gebore uit 'n welvarende familie in Antwerpen. Sy vader was Frans van Dyck, 'n syhandelaar, en sy ma Maria Cupers, dogter van Dirk Cupers en Catharina Conincx.[3] Hy is op 23 Maart 1599 gedoop (as Anthonio).[4] Sy talent was baie vroeg reeds duidelik, en teen 1609 studeer hy skilderkuns onder Hendrick van Balen, en word teen omstreeks 1615 'n onafhanklike skilder en bedryf 'n ateljee saam met sy selfs jonger vriend Jan Bruegel die Jongere.[5] Op die ouderdom van vyftien was hy reeds 'n hoogs bekwame kunstenaar, soos sy Selfportret (1613–14) toon.[6] Hy is teen Februarie 1618 as Meester tot die Gilde van Sint Lukas toegelaat.[7] Binne 'n paar jaar sou hy hoofassistent van Rubens word. Rubens het dikwels gebruik gemaak van ander kunstenaars en het sy eie groot ateljee gehad. Sy invloed op die jong kunstenaar was beduidend. Rubens het na die 19-jarige van Dyck verwys as "die beste van my leerlinge".[8]

Italië

[wysig | wysig bron]
Genuaanse "hauteur" van die Lomellini familie, 1623


Die oorsprong en presiese aard van hul verhouding is onduidelik. Daar word bespiegel dat van Dyck vanaf ongeveer 1613 'n leerling van Rubens was, aangesien selfs sy vroeë werk min tekens van van Balen se invloed toon. Daar is egter geen duidelike bewyse hiervoor nie.[9] Terselfdertyd verklaar die oorheersing van Rubens in die relatief klein stad Antwerpen waarskynlik waarom Van Dyck, ten spyte van periodieke reise terug na die stad, die grootste deel van sy loopbaan in die buiteland deurgebring het.[9] In Rubens se kontrak vir die plafon van die Carolus Borromeuskerk (die Jesuïet-kerk in Antwerpen. 'n Brand vernietig die kerk in 1718) word van Dyck vermeld as een van die "discipelen" wat die skilderye volgens Rubens se ontwerpe moes uitvoer. Anders as van Dyck, het Rubens vir 'n groot verskeidenheid Europese howe gewerk.

In 1620 het van Dyck, onder aanstigting van George Villiers, Markies van Buckingham, vir die eerste keer na Engeland gereis, waar hy vir koning Jakobus I van Engeland werk verrig het en £100 daarvoor ontvang het.[9] In Londen, in die versameling van Thomas Howard, 21ste graaf van Arundel, het hy vir die eerste keer kennis gemaak met Titiaan se werk, wie se gebruik van kleur en subtiele modellering van vorm tot 'n grondverskuiwing in sy eie werk sou lei, met 'n nuwe stilistiese taal wat die komposisionele lesse wat hy by Rubens geleer het verryk het. [10]

Landscape with a Gnarled Tree and a Farm, Pen and brown ink, The Met

Hy het na vier maande teruggekeer na Vlaandere, en in 1621 na Italië vertrek, waar hy vir ses jaar gewoon het. Hier het hy die Italiaanse meesters bestudeer en 'n suksesvolle loopbaan as 'n portretskilder begin. Hy het vroeg reeds sukses behaal en sodoende, volgens Giovan Pietro Bellori, die kolonie van noordelike kunstenaars in Rome geïrriteer. Volgens Bellori "het sy gedrag ooreengekom met dié van 'n edelman eerder as 'n gewone persoon. Aangesien hy gewoond daaraan was om in Rubens se sirkel met edelmanne om te gaan en begerig was om 'n goeie indruk te skep, het hy klere van satyn, verehoedens, borsspelde, en goue halsbande gedra, vergesel van bediendes." [11]

Antoon van Dyck, deur Rubens (1627–28)

Hy het meestal vanuit Genua gewerk, alhoewel hy ook na ander stede gereis het en in Palermo in Sisilië gewoon het, waar hy onder kwarantyn was gedurende die plaag van 1624, een van die dodelikste in Sisilië se geskiedenis. Hier het hy 'n 'n belangrike reeks skilderye geskilder van die stad se plaag-beskermheilige, Sint Rosalie. Sy uitbeeldings van jong vroue met vloeiende blonde hare en Fransiskaanse kappe wat afreik na Palermo in sy uur van nood het die van die oomblik af die standaard-ikonografie van die beskermheilige geword, en 'n groot invloed uitgeoefen op Italiaanse Barokskilders, soos byvoorbeeld Luca Giordano en Pietro Novelli. Beskikbare weergawes daarvan sluit dié in Madrid, Houston, Londen, New York en Palermo in, sowel as in Puerto Rico en Wene. Van Dyck se reeks skilderye van Sint Rosalie is deur Gauvin Alexander Bailey en Xavier F. Salomon bestudeer, en hulle was beide kurators of mede-kurators van uitstallings wat gewy is aan die tema van Italiaanse kuns en die plaag.[12][13][14]

Vir die Genuaanse aristokrasie, wat hulle in 'n laaste fase van voorspoed bevind het, het hy 'n vollengte portretstyl ontwikkel, gebaseer op Paolo Veronese en Titiaan asook Rubens se styl uit sy eie tyd in Genua. In 1627 is hy terug na Antwerpen vir vyf jaar. 'n Lewensgrootte portret van vier-en-twintig Brusselse stadsraadslede is in 1695 vernietig.[15] Hy kon soos Rubens goed klaarkom in die aristokratiese- en hofkringe, wat bygedra het tot sy vermoë om opdragte te bekom. Teen 1630 is hy beskryf as die hofskilder van die Habsburgse goewerneur van Vlaandere, Aartshertogin Isabella. In die tydperk het hy ook godsdienstige werke geskilder. Hy het ook begin met drukwerk.

Londen, en afsterwe

[wysig | wysig bron]
Lord John Stuart and his Brother, Lord Bernard Stuart, omstreeks 1638, is tipies van die meer intieme maar steeds elegante styl wat hy in Engeland ontwikkel het

Koning Karel I was die mees passievolle kunsversamelaar onder die Stuart-konings, en het skilderkuns gesien as 'n manier om sy verhewe siening van die monargie te bevorder. In 1628 het hy die pragtige versameling van die hertog van Mantua gekoop. Sedert sy troonbestyging in 1625 het hy naarstiglik probeer om vooraanstaande buitelandse skilders na Engeland te lok. In 1626 slaag hy daarin om Orazio Gentileschi te oorreed om hom in Engeland te vestig. Sy dogter Artemisia Gentileschi en van sy seuns het later by hom aangesluit. Karel I het veral vir Rubens geteiken, wat uiteindelik in 1630 tydens 'n diplomatieke sending besoek afgelê het. Rubens is besonder goed behandel tydens sy besoek van nege maande, waartydens hy tot ridder geslaan is.

Van Dyck het in kontak met die Engelse hof gebly en koning Karel se agente gehelp in hul soektog na skilderye. Hy het van sy eie werke gestuur, insluitende 'n selfportret (1623) saam met Endymion Porter, een van Karel se agente (sy Rinaldo en Armida, 1629), en 'n godsdienstige skildery vir die koningin. Hy het ook in 1632 in Den Haag Karel se suster, koningin Elisabeth van Boheme, geskilder. In Aprilmaand van dieselfde jaar het Van Dyck na Londen teruggekeer, waar hy dadelik onder die vlerk van die hof geneem is. Hy is in Julie tot ridder geslaan, en het terselfdertyd 'n pensioen van £200 per jaar ontvang. In die toekenning is hy beskryf as principalle Paynter in ordinary to their majestities.[16][17] Hy is boonop goed betaal vir sy skilderye; maar koning Karel het vir vyf jaar nie sy pensioen oorbetaal nie, en die prys van baie skilderye is uiteindelik verlaag. Hy is voorsien van 'n huis aan die Teemsrivier by Blackfriars, Londen, wat destyds net buite Londen geleë was. 'n Klompie kamers in Eltham-paleis, wat nie meer deur die koninklike familie gebruik is nie, is ook aan hom beskikbaar gestel as 'n landelike toevlugsoord. Die kamers is deur Margaret Lemon bestuur. Sy Blackfriars-ateljee is gereeld deur die Koning en Koningin besoek.[9][15]

Karel I tydens 'n Jagtog, omstreeks 1635, Louvre

Hy was 'n onmiddellike sukses in Engeland, waar hy 'n groot aantal portrette van die Koning en Henriëtta Maria van Frankryk, sowel as hul kinders, geskilder het. Baie portrette is in verskeie weergawes geskilder, hetsy as diplomatieke geskenke, hetsy as geskenke aan ondersteuners van die toenemend omstrede koning. Van Dyck het na raming altesaam veertig portrette van koning Karel geskilder, sowel as ongeveer dertig van die koningin, nege van die graaf van Strafford, en verskeie van ander howelinge.[18] Hy het verskeie van die hof geskilder, en ook van homself en sy minnares, Margaret Lemon.

In Engeland het hy 'n styl ontwikkel wat 'n ontspanne elegansie en gemaksugtigheid kombineer met 'n onderbeklemtoonde gesag, wat die Engelse portret skilderkuns tot aan die einde van die 18de eeu oorheers het. Sy portrette van Karel te perd het die grootsheid van Titiaan se skilderye van keiser Karel V oortref, maar selfs meer oorspronklik is sy portret van Karel in die Louvre: "Charles is given a totally natural look of instinctive sovereignty, in a deliberately informal setting where he strolls so negligently that he seems at first glance nature's gentleman rather than England's King".[19] Alhoewel sy portrette die klassieke idee van 'n "Kavalier-tipe" styl en -kleredrag geskep het, het 'n meerderheid van sy belangrikste beskermhere in die adelstand, soos Lord Wharton en die Grawe van Bedford, Northumberland en Pembroke, die parlement se kant gekies tydens die Engelse Burgeroorlog wat kort ná sy dood uitgebreek het.[15]

Christus met die Kruis

Portrette en ander werke

[wysig | wysig bron]
Simson en Delila, omstreeks 1630, 'n historiese skildery ná Rubens. Die gebruik van versadigde kleure onthul van Dyck se studie van Titiaan
Henrietta Maria en die dwerg, Sir Jeffrey Hudson, 1633

In die 17de eeu was die vraag na portrette groter as na ander soorte skilderwerk. Van Dyck het Koning Karel probeer oorreed om grootskaalse reekse oor die geskiedenis van die Orde van die Kousband vir die Bankethuis, Whitehall, aan te vra, waarvoor Rubens vroeër plafonskilderye voltooi het (hy het dit vanaf Antwerpen na Engeland gestuur). 'n Skets vir een muur bestaan steeds, maar teen 1638 het Karel te min geld gehad om voort te gaan.[9] Velázquez het nie die probleem gehad het nie, maar tog is Van Dyck se daaglikse lewe nie, soos die geval was met Velázquez, deur onbenullige hofpligte beswaar nie. Van Dyck het tydens sy besoeke aan Parys in sy laaste jare gepoog om die opdrag te bekom om die Grande Gallerie van die Louvre te skilder. Hy was egter uiteindelik onsuksesvol[20]

'n Lys van skilderye wat deur van Dyck in Engeland geskilder is bestaan steeds. Dit is saamgestel deur van Dyck se biograaf, Bellori, en is gebaseer op inligting van sir Kenelm Digby. Geen van hierdie werke blyk steeds te bestaan nie, behalwe die Eros en Psyche wat vir die Koning geskilder is (hieronder).[9] Baie ander werke, meer godsdienstig as mitologies, bestaan egter steeds, en alhoewel die werke baie mooi is, bereik hulle nie die hoogtes van Velázquez se skilderye nie. Sommige van van Dyck se vroeë werke is in die styl van Rubens geskilder, alhoewel sommige van sy Sisiliaanse werke baie individualisties is.

Van Dyck se portrette het meer gevlei as Velázquez s'n. Toe Sophia, later keurvors van Hanover, vir die eerste keer in 1641 vir Koningin Henrietta Maria ontmoet het in ballingskap in Holland, het sy geskryf: "Van Dyck's handsome portraits had given me so fine an idea of the beauty of all English ladies, that I was surprised to find that the Queen, who looked so fine in painting, was a small woman raised up on her chair, with long skinny arms and teeth like defence works projecting from her mouth..."[9]

Sommige kritici gee van Dyck die skuld dat hy 'n ontluikende, strenger Engelse portretskildery-tradisie – van skilders soos William Dobson, Robert Walker en Isaac Fuller – verander het na een wat, in die hande van Van Dyck se opvolgers, soos Peter Lely of Godfrey Kneller, beskryf sou kon word as elegante verbeeldingloosheid.[9] Die konvensionele siening van sy portret-skilderwerk was nog altyd gunstiger: "When Van Dyck came hither he brought Face-Painting to us; ever since which time ... England has excel'd all the World in that great Branch of the Art" (Jonathan Richardson: An Essay on the Theory of Painting, 1715, 41). Thomas Gainsborough het na bewering op sy sterfbed gesê: "We are all going to heaven, and Van Dyck is of the Company."[15]

Galery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ULAN entry. Oorspronklik "van Dijck", met die "IJ" digraaf, (in Nederlands).Die Nederlandse spelling is Anthonis of Antoon, alhowel Anthonie, Antonio of Anthonio ook gebruik is; in Frans staan hy dikwels bekend as Antoine, in Italiaans Anthonio of Antonio.
  2. "Anthony van Dyck". Netherlands Institute of Art. Besoek op 20 Maart 2021.
  3. Cust, Lionel Henry. "Van Dyck Anthony". Besoek op 28 April 2018 – via Wikisource.
  4. Antwerpen, S.A.A., Parochieregisters, Doopakten, 30/03/1592 – 26/06/1606, fol. 147, 23-03-1599 Anthonio Van Dijck, opgespoor deur die Jordaens Van Dyck Paneelskilderye-projek (www.jordaensvandyck.org) op 6 April 2017.
  5. Brown, p. 15.
  6. Vlieghe, Hans. Flemish Art and Architecture, 1585–1700, Yale University Press, p 200. 124. ISBN 0-300-10469-3
  7. Martin, Gregory. The Flemish School, 1600–1900, National Gallery Catalogues, p. 26, 1970, National Gallery, Londen, ISBN 0-901791-02-4
  8. Brown, p. 17.
  9. 9,0 9,1 9,2 9,3 9,4 9,5 9,6 9,7 Ellis Waterhouse, Painting in Britain, 1530–1790, 4th Edn, 1978, pp. 70–77, Penguin Books (nou die Yale History of Art-reeks)
  10. Brown, bladsy 19.
  11. Levey, Michael, Painting at Court, Weidenfeld & Nicolson, Londen, 1971, pp. 124–5
  12. Cotter, Holland (29 Julie 2005). "Desperately Painting the Plague". The New York Times.
  13. Bailey, Gauvin Alexander (1 Maart 2012). "Van Dyck in Sicily: while the plague held Palermo in its grip, Anthony van Dyck radically developed 12th-century iconography of Saint Rosalie through five paintings that imbued the saint with a sensual refinement. Van Dyck's Rosalie became one of Catholicism's most popular images of victory over pestilence, and represents a key period in the artist's development". Apollo. 175 (596): 116–122 – via go.gale.com.
  14. "2012: Van Dyck in Sicily | Dulwich Picture Gallery". www.dulwichpicturegallery.org.uk.
  15. 15,0 15,1 15,2 15,3 Cust 1899.
  16. Sharpe, K.; Lake, P. (1993). Culture and Politics in Early Stuart England. Stanford University Press. p. 223. ISBN 978-0-8047-2261-2.
  17. Gaunt, William, English Court Painting
  18. Levey p. 128
  19. Levey, op cit p. 136

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]